3

WINTER 2023 Oordenking Geankerde lewens Ds Ben Smit Lees: Heb. 6: 11-20 (19 en 20) Die vaste hoop van die evangelie, sê ons teks, is 'n anker van die siel. Dis 'n wonderlike beeld. 'n Anker gee aan enigiemand op 'n boot, die gevoel van vastigheid en veiligheid. As die wind opsteek en daar kom storms, is dit die anker wat 'n skip of boot vashou, sodat dit nie weerloos meegesleur word nie. So het ons ook 'n anker – dit is ons hoop op God. Storms en winde van verandering waai ons nie weg nie. Ons is nie slagoffers van omstandighede, of skipbreukelinge wat op die nippertjie opgepik moet word uit die water nie. Ons is nie drenkelinge nie, maar ons hoop op God anker ons in elke storm. Ons teks sê egter 'n vreemde ding oor hierdie anker van ons. 'n Skeepskaptein gooi die anker uit in die see of water en dit verdwyn in die diepte, waar dit ongesiens werk om ons vas te hou. Die anker van ons hoop word egter nie in die see gegooi nie, maar in die lug. En dan verdwyn dit ook wanneer dit in die hemelse heiligdom ingaan. Mens wil sê dis darem baie dwaas om jou anker in die lug te gooi, maar dis wat die kerk doen! Ons anker is in Jesus Christus wat opvaar na die Vader. Hy het met sy hemelvaart as ons Voorloper daarheen gegaan en ons anker daar in die heiligdom gaan vasmaak by God in Wie alles vas en seker is. Ons sien dit nie, net soos die skipper wat sy anker in die see gegooi het dit nie sien nie. Maar ons weet verseker: die anker van ons hoop is gewis en seker vas by God. En dan volg daar 'n tweede beeld: 3 Jesus het die heiligdom ingegaan as ons Voorloper. Dat Hy ons Voorloper is sê: ons kom ook agter Hom aan. Die beeld praat dus van Hom as ons Leidsman of Generaal. Ons Aanvoerder agter Wie aan ons triomfantlik uittrek. So het Christus ook opgevaar. Triomfantlik! En nie maar vir Homself nie, maar vir ons, sy leër wat Hom volg. Hy staan daar op die Olyfberg as Borg van sy kerk en as Hy opvaar, sê Hy, Ek verlaat julle nie. Wanneer Ek vir julle plek berei het, sal julle My ook volg. Julle sal wees waar Ek is! Sy hemelvaart waarborg daarom die hemelvaart van die hele kerk. Ons het in Hom die waarborg en belofte dat Hy, die Hoof, ons as sy liggaam by Hom sal neem. Daarin is die vastigheid van ons hoop geanker – in Christus. Die 11 staan daar op die Olyfberg met 'n wêreldwye roeping. Hulle moet die storms in. Die vervolging en verdrukking wat wag. Die golwe gaan slaan. Maar hulle anker is vas. Ook al sien hulle dit nie. Hulle word nie meegesleur nie. Hulle lei geen skipbreuk nie. Hulle anker is vas in Christus. Is jou lewe wel só geanker?

4 Publizr Home


You need flash player to view this online publication